Wegkruip

Wegkruip Contact information, map and directions, contact form, opening hours, services, ratings, photos, videos and announcements from Wegkruip, Wegkruip, Karasburg.

26/11/2025

Liewe kersvader

Beste kersvader, ek was baie soet hierdie jaar. Ek het mooi na my katte en werfdiere gekyk. Behalwe daai keer wat ek die kraan by die hoenderhok oop vergeet het en al 5 kapokie kuikens versuip het in die water, o ja… en die 1000L watertenk was toe ook mos leeg. Maar ek het mos mooi om verskoning gevra. Behalwe vir dit was ek baie voorbeeldig en d**k ek verdien ‘n mooi geskenk hierdie jaar. O ja…. En ek is ook jammer oor my taalgebruik toe die bakkie sonder diesel gaan staan het oppad terug huistoe. (Ek was die hele dag in die dorp en het ‘vergeet’ om die bakkie vol brandstof te maak. Maar ‘in my defence’ wil ek net sê dat dit as gevolg van oom Joop se lang asem was, hy gaan haal mos die bobbejaan ver agter die bult en dan hol hy so skuins oor hom soos hy aandik. Feite. Maar toe loop staan ek mos 20 kilos van die huis af, die enigste plek op die pad wat nie opvangs het nie, vir die volgende 20 kilos.) Maar behalwe vir dit was ek regtig baie gehoorsaam.

Wel…. Miskien is daar nog so hier en daar ietsie klein wat ‘n uitsondering is, ek glo ek sal ook kan verduidelik hoekom ek nie eintlik die skuldige een was nie. Nee, regtig, ek was nie altyd skuldig nie. Maar dan sê ek maar jammer daaroor ook.

Nou wat ek nou eintlik vir kersfees wil hê is nie te veel gevra nie. Ek d**k nie so nie - net in my beskeie mening. Vra is mos vry. (Die wyer daarby is nie nou van toepassing hier nie… ) Ek voel nogal dat ek kan doen met ‘n bietjie van ‘n ruskans. So af naweek…. of week. Veral oor kerstyd, daai week. Ek wil ook vra dat ons koskaste dan vol is en ons nie dorp toe hoef te ry nie. Nie vir kos nie, nie vir diesel nie en ook nie vir voer nie. Ek kan nie meer byhou met inflasie nie. Diesel is al meer as dubbeld op hierdie jaar en nou hoor ek nog nie voer se prys styg ook alweer. Dan betaal ons nog vir ‘n 2L kookolie R70 ook en aartappels is al by R90 vir ‘n 7kg sakkie. Nee, regtig. Ek het ‘n vakansie van dit alles af nodig.

Ek het ook ‘n bietjie van ‘n ‘break’ nodig van my skapies af. Net so rukkie, ‘n kortetjie. Sien, Kersvader, as ek rustig op my stoep sit en ek sien ‘n lammerooi daar in die huis se kamp, wonder ek hoekom sy sonder haar lam rondloop. Hulle moet juis volgende week gespeen word. Die agterkant van my huis wys na die trekker se kamp en my seuntjie het netnou kom sê hy sien die blêrrie deurkruiper ram is alweer by die jong ooitjies. (Ek het nou die dag die oorlus ram aan die agterkant van die plaas loop bêre, maar nee. Hy is soos ‘n ding wat snuf in die neus kry, dan hou ‘n kampdraad hom nie terug nie. ) Ek wonder of die sonpomp by Letterboom nog gooi, en die battery vir Swartkop se middellyn wat krag gee om die jakkalse weg te skok, en die rooikat hok oppad soontoe, ek wonder of ons al die bliksem gevang het. (Jammer oor daai woordjie ook Kersvader.) Maar hy maak vir my baie skade.

As ek dit nou so reguit mag stel……… ek hoop ook eintlik my skoonfamilie se planne val deur die mat. Sien… ek hou baie van hulle, solank hulle net daar bly waar hulle is. ‘n Landsgrens is lyk my nie ver genoeg nie. Ek het nie regtig ‘n probleem met die oumense nie. Dis net dat Pa nie kan hoor nie en wyer om sy ‘ore’ in te sit. Ma weet heeltyd van beter en bly trek haar vingers oor tafels en goeters om te kyk vir stof, dan wys sy haar vinger so regop vir my, voor almal. Sy wil ook heeltyd weet hoekom ons plaaswater so snaaks proe. (Dis seker omdat daar nie chloor in is nie Ma!!) Swaer drink net die stad se sorge weg. Die een bier na die ander. Heel dag lank. Ek hoop nie hy d**k ons gaan dorp toe ry net vir bier nie. Elke jaar vaar hy in my rantsoen kamer in en sit vir hom van die ‘courts’ in die yskas. Elke jaar. Het hy nou nog nie geleer hy moet meer bier bring as laas jaar nie?! Hy sit en drink, lê en drink en swem en drink. Heeltyd. Ek het ook al gesien hy vat ‘n bier kamer toe as ons almal ‘n middagslapie gaan vat. Maar dis nog niks. Sus vat die koek. (Ook die hele vrugtekoek) Eerstens is haar kinders, is mos stadsjapies, ken nie van die plaaslewe nie. Hulle kan nie buitentoe nie want dis warm, hulle kan nie saans slaap nie want die muskiete vreet hulle op. Die hoenders maak hulle wakker net voor die son opkom. Hier is nie opvangs nie, so hulle kan nie kontak maak met enige iemand behalwe ons in die huis nie. (Ek wil ook nie vir hulle sê ons het ‘n skottel opgesit en vang nou sateliet internet op nie. ek sal my mos vrek betaal aan al daai data!) Hulle eet ook heeltyd en is klaar so rond soos speenvarkies. Hule kry mos hulle pousekos in ‘n koelboks. Een met wiele. Elke kind het sy eie een. (Sjoe….. voel ek nou skaam vir my kinders wat tuisgebakte koekies en beskuit koshuis toe kry. ) Maar nee, my suster is ‘my sister from another mother’. My ma sê altyd sy is in die hospitaal omgeruil. Sy eet in oormaat, met elke ete is haar bord die volste, so asof sy bang is daar is nog oor vir more. Sy vat altyd die grootste sny…. Die volste bakkie, die tuisgebakte koekie met die meeste icing in, die stuk waatlemoen met die minste pitte - dis vir my die ergste! En dan tik sy mos so met haar plastiek naels teen haar glas se rand en kyk vir my so oor haar bril. Nog enetjie Boeta asseblief, sy is seker bang my glas is voller as hare.

Nou ja, Kersvader, gee my tog net ‘n blaaskans, ‘n ruskans. Ek wil ook hierdie jaar saam met my gesin vier. Ek wil he ons moet die geboorte van Jesus vier en vergeet van die geskenke. Ek wil he ons moet oukers en kersdag om die tafel sit en hande vat. Bid voor ons eet, maar bid met hart en gees. Nie net dankie en amen nie. Sus is altyd so haastig om te skep!

Kersvader, mag ek hierdie jaar net saam met my gesin wees. Sonder enige drama, oë-rollery, ‘n gekla oor die hoender haan waarop ek so trots is. (Daai haan het immers ‘n prys gewen op die Karasburg Agri-Dag se ekspo! Ek se jou - dis nie sommer net ‘n haan nie, hy het ‘n ‘breed’ en ‘n familielyn waarvoor ek baie betaal het. Die feit dat ek hom by Jonas gevat het om sy winkel skuld te betaal is nie nou ter sprake nie, jy kan mos sien hoe lyk hy!). Sonder enige rooikatte, honde wat die tarentale vang of sonder ‘n gekla oor te min bier of aartappelslaai sonder eier.

Maar noudat ek dit alles uitgeskryf en gevra het besef ek dat dit nie ‘n kersfees sal wees sonder hulle almal nie. Elkeen bring sy eie drama, elkeen bring sy eie deeltjie van homself na ons huis toe. Al hou swaer baie van sy bier, drink hy ten minste ‘n Namibiese ‘brand’ as hy plaas toe kom. En hy hou daarvan om te luister na my skaap stories. Ek praat mos net skaap-taal. Pa sit dalk nie sy ore in nie omdat hy nie WiL nie?! (Nogal slim…) Sus trek so ‘grand’ aan en wys haar blinkste kant om dalk op te maak omdat sy nie so lekker koekies of beskuit kan bak nie. Dalk nie so lekker kan kook nie? (Sy koop dit wel graag.) En om nou eerlik te wees kan ek ook nie die kinders kwalik neem nie. Dis soos hulle groot word - met ‘n foon in die hand en ‘n sweet in die kies. My kinders is anders, hulle word groot met ‘n papwiel wat self omgeruil moet word, hanslammers met name wat dit nie maak nie, hulle word groot met bakkies vol voer - nie groceries nie. Jy kan nie haar kinders kwalik neem nie. As hulle ‘n aircon gewoond is……. ( jis, ek sou darem nie omgee vir een nie. Alhoewel, ek het al gehoor dat as ‘n boer ‘n aircon in die huis het, wil hy nie namiddag weer uit die huis uit nie. As hy eers daai dag se lafenis in die huis kom kry het is dit boeke toe! )

Kersvader - ek weet ek het nou gevra vir stilte en om net rustig te wees, maar ek d**k tog ek moet maar my familie by my hê. Veral as ons die nuwe jaar ingaan - dan wil ‘n mens mos weet wie in jou lewe is belangrik, wie gee om. Ek het my suster se kinders nodig om vir my daai mooi kerskaartjie te maak wat ons elke jaar uitstuur. Ma & Pa wat maar net altyd daar is. Altyd. Sus met haar ekstravante uitrustings wat glad nie geskik is vir ‘n regte plaasvrou wat hekke moet oopmaak of ‘n wiel moet omruil nie. Swaer…. Ja, hy kan maar my ‘courts’ in die rantsoenkamer kry. Ek weet hy gaan van hulle vat - ek het ekstra gekoop.

My kinders sien ook ‘n ander wêreld, een wat hulle duidelik nie mee gemaklik is nie, maar wel… hulle leer iets. Ek d**k ons moet maar kersfees so hou soos elke jaar. Ek hou daarvan om my ooie te sien, die lammers, ek hou daarvan om die waters en die kragdrade om te ry. Dis soms lekker, want dis altyd ‘n verrassing wie gaan saamry - wie nie lus het vir die drama by die huis nie. Mens vind nogal baie uit as iemand so gamaklik en ongesteurd is. Dis tog eintelik te lekker om verby die rooikat hok te ry en te sien die bliksem is gevang! (Sorry kersvader) Ek d**k tog ons moet maar eers alles net so los vir eers, miskien moet ons liewer niks verander nie. Miskien volgende jaar - ons kyk maar hoe voel ek dan. Miskien het ek nie ‘n ruskans nodig nie, miskien het ek tyd saam met my oorlamse familie nodig. Swaer luister, Pa verkies om net deel te wees sonder om iets te se. Ma bly opruim en dra skottelgoed in en begin was. (Dis gaaf ne?!) Ek d**k nogal so… Sus probeer dalk ook maar net haar kinders iets te leer van hoe sy grootgeword het. Miskien verlang sy ook soms so bietjie terug plaas toe. Na ‘n dag sonder make-up, hakskoene en te veel koffie. Dalk wil sy ook net ‘n paar nagte ‘n jaar die sterre sien blink.

Dan vra ek maar liewer hierdie jaar vir saamwees en tyd saam met familie en my skapies. Ek vra eerder vir vrede op aarde en dat die wêreld om sal onthou dat kersdag gaan oor die geboorte van Jesus en nie die geskenke nie. Dat almal sal onthou om lief te hê en mekaar te koester. Dat jy mooi sal luister as die hoof van die huis die geboorte van Jesus lees en later as ons buite sit, na die sterre sal kyk en die pad na die stal sal sien. Dat elkeen Jesus in die skitter van die sterre opnuut en in verwondering sal vind.

Geseënde kersfees Kersvader, Mag jy ook opnuut weer die pad na die stal onder die sterre vind.

Groetnis,

- Lunette vanZyl -

26/11/2025

Christmas 2025 countdown!
23/11/2025

Christmas 2025 countdown!

05/04/2025
Bees en skaap op Vanzylsrus!!
01/02/2025

Bees en skaap op Vanzylsrus!!

Gold Dollar Hill.Daar is weinig mense wat al daar was, ek kan hulle seker op 1 hand tel.  Ok, miskien 2 hande. En miskie...
29/12/2024

Gold Dollar Hill.

Daar is weinig mense wat al daar was, ek kan hulle seker op 1 hand tel. Ok, miskien 2 hande. En miskien nog 2 hande as jy familie by tel...... maar min mense weet van GOLD DOLLAR HILL. As jy weet daarvan of as jy al daar was, is jy een van die ‘gekose’ lede van die klub. Die Wegkruip klub.

Dis waar ALLES begin het vir ons. Ons Wegkruipers. Dis oupa TAT wat begin het met Gold Dollar Hill. Maar dis sy nageslagte wat die ‘koppie’ ‘n naam gegee het. ‘n Naam wat ons met oupa TAT assosieer.... verbind..... Die poeiers werk so:

Oupa TAT het dit jaaarrrreeee gelede sý koppie gemaak. Alhoewel alles rondom hom syne was. Maar wag, ek wil nie vertel van oupa TAT nie. Dis ‘n veeslike lang storie wat ek nog probeer skryf. En ek sal nog, as ek net die klomp woorde minder maak. Die woorde is net te veel, die gevoel in my hart is net te groot, te oorweldigend om dit in ‘n paar paragrawe op te som.

Nietemin..... terug by Gold Dollar Hill.
Die Legendariese Gold Dollar Hill.

Oupa TAT het dit 'ontdek'. As jy op daar die koppie sit kan jy vreeslik ver sien. En regtig, ek bedoel kilometers en kilometers. Van daardie koppie af kan jy karre op die grootpad sien, jy kan verskeie buurmanne se ligte sien. Jy kan die plato sien by Ariamsvlei. Karasburg se ligte, jy kan dit alles sien. Jy kan al oupa se plase van daar af sien.

So oupa TAT het dit sy ‘koppie’ gemaak as dit reën. As die goeie Vader vir ons reën stuur het oupa op hierdie einste koppie gaan sit. Hy kon sien waar en wíe geseën word met reën. Hy kon ook sien of hy more na die plaas 30km van Wegkruip af moet ry om die meters te gaan kyk, hy kon sien of dit gereën het of nie.

Die naam Gold Dollar Hill, kom van oupa se si*****te af. Oupa TAT het vrééslik gerook. Gold Dollar Hill was sy brand of choice! Dis díe wat ons die koppie Gold Dollar Hill gedoop het. Dis baie spesiaal vir ons. Die feit dat dit oupa se gekose plek was, maar ook die feit dat jy bitter baie kan sien van die koppie af. Sien, hierdie koppie is seker op die hoogste punt van die plaas, so jy kan die res van die plaas sien, die aangrensende plase ook. En die aangrensende plase se aangresende plase. EN die s'n ook nog. Maar ons het geweldig baie respek vir oupa TAT. (ek d**k nie dit is die regte beskrywende woord nie - ek weet nie of daar een is nie.) Oupa het baie met ons toekoms te doen. Met ons hede en ons verlede, aangetroud of nie, dis iets waarmee jy trou. Wanneer jy trou, aanvaar jy jou skoonfamilie as deel van joune, en hulle maak jou deel van húlle. En as jy so gelukkig is soos ek, dan kry jy die ‘geslagte’ daarmee saam. Oupa TAT is al blou jare terug oorlede, maar hy is deel van my geskiedenis, al het ek hom nooit geken nie. Tog voel dit asof ek deel was van sy familie, asof ek hom destyds geken het. Weereens sukkel ek met oupa TAT. Ek kan net nie stop nie. Sodra ek begin skryf oor hom is dit asof die pen nie wil ophou nie. Ai tog, ‘n ander dag.

As jy gelukkig is om Gold Dollar Hill te sien - te ervaar - sal jy dit waardeer. Dan was jy een van die ‘gekose’ paar wat dit ervaar het.

Ons het by Pa geleer van die ‘koppie’ wat oupa so graag besoek het. Sodra dit lyk asof die reën wil begin uitsak, ry hy koppie toe en maak vir hom gemaklik vir ‘n lang sit. Daar het hy gesit in die reën tot sy hart vol is en oorloop van genade. Al is dit vir die man oorkant die treinspoor of die boer by die plato.

Dis toe Pa vir ons oupa se ‘koppie’ wys, dat ons ‘n hele ding daarvan gemaak het. Ons kleinkinders het dit ‘n naam gegee en elke keer wat ons daar is herinner dit ons aan hom en wat hy daar gedoen het en hoekom. Deesdae gebruik ons dit as ‘n ‘sundowner’ koppie. En dan hoor die gaste die hele geskiedenis van die koppie, daarna klink ons ‘n glasie..... op oupa TAT en ter ere aan God vir die reën wat nog oppad is. Gold Dollar Hill. Was jy al daar? Dis ‘n ervaring, wat dit so besonders maak is die storie agter die storie van Gold Dollar Hill!

- Lunette van Zyl -

Ou-kersaand op Wegkruip, met n “3 course meal”. Geseënde Kersfees! 🎄🌾
24/12/2024

Ou-kersaand op Wegkruip, met n “3 course meal”.
Geseënde Kersfees! 🎄🌾

Hoe is dit dat mansmense se sagtheid so misgekyk word?Ja, sagtheid. Jy het reg gelees. 'n Man is mos groot en sterk.... ...
11/12/2024

Hoe is dit dat mansmense se sagtheid so misgekyk word?

Ja, sagtheid. Jy het reg gelees. 'n Man is mos groot en sterk.... 'n BUL! Hy huil nie. Hy giggel nie. (Behoede my! Ek sien al hierdie stoere - boere oom wat loop en giggel! Nie grinnik nie - giggel!!) Maar nee, hulle giggel nie, blaas nie soentjies nie en deel nie drukkies vir die hond en die kat uit nie.

Hy word gestuur as 'mamma' iets in die nag hoor. Dan staan hy maar op en gaan kyk. Anders moet hy elkgeval later gaan omdat Vroulief nie kan ophou sug nie. Wanneer hy sien dat dit die kat is wat die biltong probeer steel het, loop hy vaak-vaak terug bed toe. En daar sit 'mamma'.... met die duvet tot onder die keel opgetrek, reg om haar kop weg te steek as dit moet...... (Nugter weet hoekom! Dit sal niemand niks help nie!!) Dan vra sy met groot oë: "Wat was dit?" Al wat hy sê is: "dis die kat..." Sy hoef nie te weet jy het die kat soos n rugbybal 'gedrop' toe hy by die deur uitgesmyt word nie.
Natuurlik was hy ook 'bang' toe hy moes gaan kyk wat raas.... hy het dit heel moontlik nie eers gehoor nie! Dis 'mamma' wat hom wakker geskud het. "Wat was dit? Het jy dit gehoor?! Gaan kyk gou...." maar ja, 'pappa' was ook maar effe versigtig toe hy in die donker gang af stap. Hy het ook maar nie geweet wat om te verwag nie. Moet net nooit d**k dat 'n BUL dit sal erken nie! Hulle blaas mos nie soentjies nie. Deel nie drukkies uit nie en giggel nie. Nooit gesien nie!

Julle weet dit net nie.... maar sy vrou weet en sy kinders weet. Hy het 'n ou klein hartjie. Eintlik hou hy daarvan as die kat hom uitsoek om op sy skoot te lê en purrr... Wanneer hy in die veld ry en met sy Skepper praat, p*k hy ook maar 'n traan. Toe die kinders nog pap babatjies was en hy hulle vashou, kon jy sy broosheid sien. Hy het hulle so teer vasgehou. Daai keer wat boeta dokter toe gejaag moes word, in die middel van die koue nag was hy net so beangs!

Daar ís 'n sagtheid. Net omdat dit nie vir almal blootgestel word om te sien nie, beteken nie dat dit nie daar is nie. 'n Man is mos groot en sterk. 'n Ware BUL! Hy is die hoof van die huis. (In my huis elkgeval.)

Hy is ook 'versigtig' vir die onbekende. (Let wel 'versigtig' nie bang nie! NET 'versigtig'....) Elke man het sy eie hartstaal wat net sy geliefdes verstaan. Sy sterk arms spreek boekdele wanneer hy sy vrou styf vashou in die donker nag. Die manier hoe hy boeta se hare deurmekaar vryf, of hoe hy vir sus nader trek tot onder sy veilige vlerk waar sy by die vuur langs hom gaan staan.

Die sagtheid is daar. Almal sien dit net nie.

Ek skryf hierdie spesiaal vir al ons boere.Hierdie is my opinine, dit is dalk nie jou omstandigehede nie.  Dis myne. My ...
02/12/2024

Ek skryf hierdie spesiaal vir al ons boere.

Hierdie is my opinine, dit is dalk nie jou omstandigehede nie. Dis myne. My opinie.

Hierdie is droogte. Dis erger as wat enige een van ons ooit kon d**k. Dis erger as wat my ‘nie-boere’ familie d**k dit is.
Dis iets wat ek met my hele hart hoop ek in my lewe nooit weer hoef te ervaar of deur te maak nie. Maar…. En hier is die groot ding…

Ons gesin was nog nooit so gelukkig nie. Droogte en al. My huwelik was nog nooit so sterk soos nou nie. My geloof was nog nooit so sterk soos nou nie. Droogte en moeilike tye en al. (My kinders weet nie van ‘droogte-kinders’ nie. Droog of te not – ons bou nogsteeds ‘n kite en hardloop in die grondpaadjie af saam teen die wind. Hulle ry nogsteeds met hulle fietse kraal toe en terug. Verby die droë bossies – hulle sien dit nie eers raak nie.) Dit is vir my vreeslik sleg om by die ruit uit te kyk en te sien hoe droog dit rondom die huis is. Daar is nie meer veld nie. Daar is nie meer diere wat in die veld loop nie. Hier is nog so paar rondom die huis wat met moeite aan die lewe gehou word.

Steeds, al is dit droog, al lyk dit hartverskeurend buite het ek so bitter baie om dankbaar voor te wees. Ek slaap met rustigheid in my hart. Daar is nie nou meer iets om bekommerd oor te wees nie. Die ergste is klaar hier. Dit kan nie nou meer gehelp word nie. Geen salf om aan te smeer nie. Nou slaap ek maar met toe oë en ‘n dankbare hart vir dit wat ek het. Dit wat ek nog oor het. Ek het my gesin en my geloof. Ek vra nie meer hoekom ek ook deur die droogte moet gaan nie. Ek is nie skelm en maak onderduimse planne om iemand in te loop nie. Ek vat nie wat nie myne is nie. Ek probeer goed wees vir my medemens, ek gaan kerk toe, ek bid en ek glo. Ek glo dat die Here vir ons reën sal stuur.... op SY tyd. Nie my tyd nie. Ek word nie saam met die mense wat verkeerd doen, gestraf nie. Ek wórd nie gestraf nie. En jy word óók nie gestraf nie.

Ek glo vas dat die Here vir ons reën sal stuur wanneer hy d**k die tyd is reg. Vir my voel dit of elkeen net vir homself en sy eie gesorg het. Elke persoon het op sy eie mishoop gesit en net vir homself en syne gesorg. Maar met hierdie droogte het ons gemeenskap opgestaan vir mekaar. Ons help mekaar. Meer as net ons gemeenskap. Die hele land staan saam vír die boere! Die hele land. Skielik is daar boervrou, boerkind en boergesin boksies wat uit die liefde van iemand se hart gestuur is. Iemand wat dit dalk self nie breed het nie, wat glo aan ‘n verskil maak. Skielik is daar hulpfondse en mense wat skenkings maak. Groot of klein, daar word gehelp. Dis asof hierdie droogte ons dwing om saam te staan. Is dit nie wonderlik nie? Is dit nie wat God verwag nie? Dat ons opstaan vir mekaar, jou medemens.

My ma het my geleer – “vriendelikheid kos niks.” En dit is so. As daai oom wat so baie praat jou weer voorkeer in die koöperasie…. Staan maar ‘n minuut of twee af en gesels met hom. Laat hom práát. Ek glo jy sal sy dag maak. Waarvoor is jy elkgeval haastig huistoe? Daar is omtrent nie meer diere nie, die damme bly vol want niks suip die water uit nie. Daai windpomp wat stukkend is, laat hom maar lê…… more is nog ‘n dag.

Die kassiere – smile maar vir hom ook. Wat sal dit tog help om kwaad vir hom te wees omdat jý moet voer koop. As jy nie iets het om te gee nie, wees. Wees net. Hierdie droogte laat ons saamstaan soos wat dit eintlik moet wees. Deel jou kennis met enigeen wat vra of belangstel. Al is dit ‘n glimlag of tyd, al is wat jy oor het om te gee, gee dit. Vriendelikheid kos jou niks.

Meeste van wat ek voel is ‘n besluit wat geneem word. Die feit dat dit warm is buite, of dat die veld op is, nog ‘n ooi vrek is….. maak nie saak wat die pyn is nie. Dis jou ingesteldheid. Gaan sit op ‘n hopie en gil as dit moet. Op jou eie. Daar in die veld tussen die klippe en die son. Skree daar. Kom dan huistoe en wees. Wees die pa, ma, man, vrou – wees wat net wat jy wil. As dit moet, plak dan maar die smile op. Moet tog nou nie kortaf wees met die om jou nie. Wat gaan dit jou help? Dit gaan verseker nie die reën nader bring nie. Wat gaan jy doen? Wat kán jy doen? Staan op, wees lief vir mekaar. Laat daai ou oom maar afpak en gesels by jou. Of gesels met jou buurman en maak solank planne vir na die reën.

Moenie vir een oomblik twyfel nie, die reën sal kom. God hoor al ons gebede. Hy sien ook hoe jy jou naaste hanteer, so onthou…. Vriendelikheid kos niks. Al het jy niks om te gee nie…. d**k weer.

In plaas van bid vir reën, het jy al gevra God moet vir jou nuwe planne gee? Help d**k aan ‘n uitkoms….. moenie twyfel nie. Weet dat Hy jou hoor en graag daar wil wees vir jou. Miskien moet jy net anders vra vir wat jy wil hê. Wat wil jy elkgeval hê? Ons wil almal gelukkig wees..... geld maak jou nie gelukkig nie, dit maak wel jou lewe makliker, ja. Wat van liefde? Ja, ons wil almal liefgehê wees. Almal soek mos iemand. Wie wil alleen op sy eie mishoop oudword?

In plaas van om net te vra, sê dankie. Dankie dat ek vanoggend nog kan opstaan of saam met my beste maat die son kan sien opkom..... dat ek iemand het saam met wie ek Kersfees kan spandeer. Sê dankie vir die geboorte van Jesus. Sê dankie vir die lewensmaat wat Hý vir jou gegee het. Sê dankie vir jou kinders en jou huis. Sê dankie vir jou lewensmaat wat jou so vreeslik baie ondersteuning gee. Onvoorwaardelik. Altyd. Enige tyd. Nes God. Sê dankie.

Hierdie Kersseisoen laat my baie d**k. Dit laat my altyd d**k. Ek is absoluut mal oor die Kersseisoen. Die musiek, die kersliggies, die geskenkies onder die boom. Al is dit ‘n paar sakdoeke vir pappa of ‘n pakkie sweets vir boeta, miskien het mamma haar eie geskenk gekoop, self toegedraai, so sy weet wat dit is….. Die geskenk maak nie saak nie. Die ‘gee’ maak saak. Die idee agter die geskenk is elkgeval vir my belangriker as wat dit gekos het. Die idee agter Kersfees se geskenke is die geskenke wat die 3 wyse manne aan Jesus gegee het met sy geboorte.

Hierdie Kersfees is ek tussen mense wat vir my lief is. Daar sal iets op die tafel wees om te eet en ek sal dankie sê dat ek in hierdie moeilike droogte seisoen van my lewe iets anders as die dorre aarde raakgesien het. Dankie Here dat U ons weer laat saamstaan soos dit hoort. Dankie dat ek nog my tyd en vriendelikheid kan gee, dat U my geleer het dat saamwees belangriker is as geld.

- Lunette

Glorious end to today
16/11/2024

Glorious end to today

Cattle farming on Van Zylsrus🐄🌾
19/10/2024

Cattle farming on Van Zylsrus🐄🌾

     🇳🇦
26/09/2024

🇳🇦

Address

Wegkruip
Karasburg
9000

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Wegkruip posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Business

Send a message to Wegkruip:

Share