25/11/2022
LEKKER FM NUUS - EEN MINUUT NUUS. Dischem het in ’n amptelike regsbrief aan Solidariteit op skrif erken dat daar nie meer ’n moratorium (verbod) op die aanstel en bevordering van wit werknemers by die maatskappy is nie. Die uitvoerende hoof van Solidariteit, Dirk Hermann, skryf dit toe aan druk wat gewone Suid-Afrikaners en verbruikers op die maatskappy gesit het. Hy sê op Facebook die volgende: “Dit was julle wat Dis-Chem teruggedruk het. Dankie dat julle jul verbruikerspiere gebult het. Dit was ’n kragtoer”. Dit volg nadat die uitvoerende hoof van Dischem Ivan Saltzman 'n memorandum uitgestuur het wat genoem het daar 'n moratorium geplaas word op die aanstelling van wit individue. Dit sou eksterne aanstellings en interne bevorderings ingesluit het. Hermann sê dit was geensins dubbelsinnig gestel nie en daar was van die begin af geen twyfel dat daar ’n verbod was nie. Hy sê die publiek was met reg woedend en het dit ook regverdiglik as rassisme ervaar. Solidariteit het toe met ’n regsproses teen Dis-Chem begin en gevra dat die maatskappy nie net mondelings nie maar op skrif bevestig dat die verbod opgelig is. Dis-Chem het die tydsraamwerke van Solidariteit se regspan se regsbriewe geïgnoreer en selfs gesê hulle gaan glad nie reageer nie. Hulle regspan het egter dit nou op skrif gestel dat daar nie meer ʼn moratorium op die aanstelling en bevordering van wit werknemers is nie.
Foto: IT News Africa