14/10/2026
“ń Driedubbele blessing ❤️
Toe ek ń klein dogtertjie was het ek, wanneer ek bang was, onseker gevoel het of myself in ’n onbekende situasie bevind het, altyd opgekyk na die sterre om die Drie Susters te soek. Dit was my manier om weer ’n gevoel van sekerheid te kry. Min het ek geweet dat die getal drie eendag soveel dieper betekenis in my lewe sou kry.
Ná ’n jaar waarin my lewe deur (letterlik) *drie* ongelukke verander is, moes ek leer om weer vorentoe te kyk. My arm is op *drie* plekke gebreek, en die litteken wat agtergebly het, herinner my aan hoe anders dinge kon uitgedraai het. Maar dit herinner my ook aan die ongelooflike voorreg om steeds te kan beweeg, hardloop en werklik te lééf.
Toe ek Ultra *3* 60 se Chase Your 2026-kompetisie wen, het ek nie REGTIG besef hoeveel hierdie geleentheid vir my sou beteken nie. Dit het soveel meer geword as net 'n borgskap of 'n prys. Dit het my ’n doel gegee, iets om voor te werk en ’n rede om weer in myself te glo.
Die afgelope ses maande was regtig vir my ’n reis van dissipline, deursettingsvermoë en selfontdekking. Daar was flippen moeilike dae, moegheid en oomblikke van soveel twyfel. Maar Gerhard van Ultra 360 en Morné van My Conditioning Coach het in my geglo, selfs toe ek self nie geweet het waartoe ek in staat was nie.
Op 10 Oktober 2026 het ek die Meiringspoort halfmaraton (my DROOM) voltooi in 2:*3* 6:47. Vir iemand anders is dit dalk net nog ’n tyd. Vir my verteenwoordig dit ses maande se harde werk, elke kilometer, elke traan, elke oomblik van twyfel en elke keer wat ek besluit het om maar my tekkies aan te trek, om te lééf en om te werk vir iets want daar is sóveel mense wat in my glo.
In my geloof herinner die getal drie my aan Jesus se opstanding en die belofte van nuwe lewe. Mens verstaan nie altyd waarom sekere dinge gebeur nie, maar ek kan terugkyk en sien dat my storie nie by my seerkry geëindig het nie, maar dat ek werklik ń nuwe lewe gegun is.
Ultra 360 het my nie net gehelp om ’n halfmaraton te voltooi nie. Hierdie geleentheid het my gehelp om weer in myself te glo, om ’n doel te hê en om die lewe wat ek steeds mag leef, opnuut te waardeer.
Aan Ultra 360, Gerhard, Morné en almal wat deel van hierdie reis was: dankie dat julle in my geglo het. Dankie dat julle my gehelp het om hoogtes te bereik wat ek nooit gedink het moontlik is nie. Julle het deel geword van iets wat vir my veel groter is as ’n wedloop.
Vandag kyk ek steeds op na die sterre, maar ek kyk ook terug na die pad wat ek gestap het. My litteken vertel my wat ek oorleef het. My 21.1km tyd herinner my aan wat ek bereik het. Maar hierdie pad herinner my elke dag aan waarvoor ek dankbaar moet wees.Hierdie was nooit net ’n hardloopreis nie. Dit was ’n reis terug na myself, na geloof, na hoop en na die besef dat daar nog soveel lewe voorlê.
En daarvoor sal ek altyd dankbaar wees. So al wat ek kan sê is DANKIE DANKIE en ń derde DANKIE !❤️”
- Anne-Mart