30/04/2024
Liewe Juffrou,
Ek kan verstaan dat juffrou nie verstaan dat ek meer sukkel as Piet wat laas jaar in juffrou se klas was nie. Piet het dan ook disleksie gehad en hy kon redelik lees en oraait skryf. Disleksie is mos disleksie!
Nou sit juffrou hierdie jaar met my, wat kort-kort by juffrou se tafel rond hang om vir my die opdrag te lees! Ek weet ek skryf soos 'n krap en ek kry niks reg geskryf nie. Ek weet nie of juffrou weet nie, maar daar is verskillende tipes disleksie en party kinders het dit erger as ander. Piet het 2 tipes disleksie gehad in 'n baie ligte graad & dis hoekom hy dalk nie so gesukkel het soos ek nie. Ek het 5 verskillende tipes disleksie.
Ek belowe juffrou ek wil nie opsetlik lelik skryf en ek maak nie of ek nie kan lees nie. Ek d**k nie enige kind wat ook 9 jaar oud is wil elke dag in die moeilikheid kom oor skoolwerk nie, want juffrou dis in ons kinders se natuur om te probeer om ons beste te gee. Ons hou daarvan om geprys te word vir goedjies wat ons reg doen.
Ek d**k Jaco wat so stout is langs my en ook disleksie het, het dalk net in Graad 2 moed op gegee. Hy het soveel raas gekry dat hy lyk my besluit het om net skuins teen die wind te wees!
Soms wonder ek ook of ek nie maar net so onmoontlik soos hy moet word nie, want wat help dit om my bes te probeer gee as ek in elk geval raas kry oor my boeke en werk wat so gemors is?
Juffrou, ek weet ek is altyd laaste klaar met die toets en ek kan sien Juffrou is al moedeloos met my. Ek kan sien die maatjies giggel as ek moet opstaan om te lees.
Ek kan dalk nie lees wat Juffrou se lang rooi brief in my boek sê nie, maar ek weet sulke rooi-pen-briewe bring hartseer in my huis, want ek het al menig male gesien hoe stil mamma raak as sy dit klaar gelees het en sê sy wil net bietjie alleen wees.
Ek d**k soms dis moeilik vir Mamma om ook hierdie disleksie storie van my te verstaan, maar ek belowe Mamma gee altyd haar beste om my te help. My boeties moet maar altyd self aangaan, terwyl Mamma my help. Sy het nie tyd om by hulle ook uit te kom nie.
Ek weet juffrou het baie kinders in die klas en ek kan heeltemal verstaan dat juffrou ook soms nie weet hoe om elkeen met 'n probleem te probeer help nie. Ek wens ek kon my brein omruil vir 'n nuwe een wat ook kan lees en skryf, maar Mamma sê God het my so gemaak en God maak nooit foute nie.
Juffrou ek wou ook graag met my hele hart een van die Top 10 akademiese presteerders wees. Ek bewonder daardie kinders, maar Mamma sê mense verskil en almal kan nie ewe goed in alles wees nie.
Al wat ek eintlik wil sê is ek probeer Juffrou. Ek en mamma werk elke aand tot baie laat om my huiswerk klaar te kry. Ek weet ek is nie goed met lees en skryf nie, maar het juffrou gesien hoe mooi ek skilder en dat ek vir een van my maatjies wat nie 'n kosblik gehad het gister al my kos gegee het?
Die mense wat my getoets het sê mense kan van kleins af hoor, sien, geluide maak en hul breine leer hul vanself loop, beweeg, teken en hardloop. Dis bleikbaar natuurlike dinge wat die brein self doen.
Hulle sê lees en skryf is 'n vaardigheid wat aangeleer moet word en dat dit nie 'n natuurlike ding is vir almal se breine, soos praat en gehoor nie. Hulle sê as ons van alle kinders verwag om goed te kan lees en skryf, moet ons ook van alle kinders verwag om goed klavier te speel, goed te skilder, te dans, debat te praat ens.
Ek verstaan nie al hierdie dinge nie Juffrou, want ek is seker nog te klein. Dankie Juffrou vir my goeie mondeling punte, want dit het my lewe gered in Afrikaans! Ek gaan regtig probeer om nie weer so baie te pla by Juffrou se tafel nie. Jammer oor als wat ek nie kan regkry nie...
Groete
Net nog 'n kind met disleksie. (Nie my eie woorde nie, maar bewoord so mooi wat ek wil oordra)
Skrywer onbekend