18/07/2022
Hulp en remediëring met leesprobleme
In die vorige nuusbrief het ek die oorsake van leesprobleme bespreek. Vandag kyk ons na enkele aspekte van leesremediëring. Baie ouers weet nie waar en hoe om te begin wanneer hulle kind ‘n leesprobleem het nie. Ek noem enkele aspekte wat ek vertrou as ‘n beginpunt kan dien.
Ek bespreek kortliks:
1. Rigtingwysers wat om te doen wanneer jou kind ‘n leesprobleem toon.
2. Basiese beginsels in leesremediëring.
Wanneer jou kind leesprobleme ondervind moet jy dit met die klasonderwyser bespreek, sodat julle saam oor remediëring of ‘n behandelingsplan kan besluit. Kommunikasie tussen ouer en onderwyser is belangrik.
Verwysing na ‘n sielkundige mag nodig wees om ‘n skolastiese en verstandevaluering te doen. Die sielkundige sal dan ‘n verslag met die nodige aanbevelings skryf. Hierdie verslag sal as riglyn dien vir die ouer, skool, dokter, remediërende onderwyseres of enige ander terapeut.
In remediëring is dit nodig om eerstens die basiese probleme aan te spreek. Dit kan dinge insluit soos gebrekkige woordherkenning of ‘n lae leesspoed of fokusprobleme. Hierdie probleemareas moet hanteer word, sodat die kind ‘n verbetering in sy lees kan ervaar.
Dit is nodig om te bepaal wat die kind reeds met vertroue kan doen. Dit is die fondament van remediërende onderrig en aanmoediging.
‘n Verskeidenheid van benaderings kan in leesremediëring aangewend word. Sommige kinders leer beter deur die visuele metode, naamlik kyk-en-lees. Selfs prente met woorde daarby kan help. Ander kinders leer weer beter deur te klank. Daar is nog ander metodes ook. In dieselfde les kan verskillende metodes aangewend word soos die herkenning van sigwoorde, hardop lees, klank en so meer. In leesremediëring word al die taalvaardighede gebruik soos praat, luister, klank en lees, en skryf. Daar is ook opvoedkundige speletjies wat aangewend kan word om die leesremediëring lekker en genotvol te maak.
Leer van sigwoorde is belangrik. Dit help die kind om belangrike alledaagse woorde aan te leer. Onthou herhaling en vaslegging is hier nodig. Ouers kan dit by die huis met hulle kinders doen – dit werk baie goed.
Begrip is ‘n belangrike aspek van leesremediëring. Byvoorbeeld moenie net dat die kind lees nie, maar stop die leesproses, en vra aan die kind wat hy gelees het en laat hy die leesstuk aan jou verduidelik.
Remediëring is aaneenlopende proses: toetsing, remediëring en onderrig en oefen, en dan weer hertoetsing. Sodoende kan die kind se vordering bepaal word, vasgestel word in watter fasette die kind goeie vordering toon, en waar nog agterstande voorkom. Die gebruik van vorderingskaarte word aanbeveel.
Die individuele fokus op ‘n kind is belangrik. Indien daar leesremediëring in ‘n groep – soos byvoorbeeld op rekenaars in ‘n leeslaboratorium – gedoen word, moet individuele aandag en monitering steeds in plek wees. Dit is ook nodig om aanpassings te doen soos die kind verbeter en vorder. Hiermee saam, moet die kind se vordering teen homself beklemtoon word en moet hy nie met ander kinders vergelyk word nie.
Leesprobleme is vir ‘n kind sleg en spanningsvol. Die kind kan dom voel en sy selfvertoue kan hierdeur afgetakel word. Remediëring moet so aangebied word dat dit vir die kind lekker is en dat dit sonder spanning ervaar word. Die gesindheid en houding van die remediërende onderwyser is dus baie belangrik. Ek moet hierby voeg dat ek oor die jare met die wonderlikste remediërende onderwysers wat ‘n hart vir die kind wat probleme ervaar, saamgewerk het. Die remediërende onderwyser skep die klimaat waardeur ‘n kind ‘n positiewe gesindheid ten opsigte van sy leesprobleem ervaar en graag sal wil verbeter.
Probeer om jou kind nie weg te neem van sy ander aangename aktiwiteite nie. Hy moet steeds dinge waarvan hy hou, soos sport en musiek, doen. Word hy ontneem van hierdie dinge raak hy opstandig en gefrustreerd teenoor remediëring. Die begeerte om sy lees te verbeter moet by die kind ontwikkel word.
Dit is belangrik om te onthou dat lees nie altyd verbeter deur slegs baie te lees nie. Jy kan vir jou kind probeer dwing om baie boeke te lees, maar dit gaan nie noodwendig die probleem oplos nie. Ander aspekte wat ook moet verbeter is dinge soos woordherkenning en korrekte oogbewegings. Al die aspekte van die leesprobleem moet aandag kry. Moedig wel daaglikse lees aan.
Moenie remediëring doen wanneer die kind moeg, honger of emosioneel ontsteld is nie. Probeer jou kind fisiologies, emosioneel en sielkundig gereedmaak vir elke remediërende sessie.
Dit is belangrik vir ‘n kind om sy vordering te kan sien. Dit motiveer hom om steeds te wil verbeter en vol te hou.
Moedig jou kind aan en motiveer hom gereeld. Vertel hom hoe trots jy op hom is met elke klein sukses wat hy in remediëring behaal.
Ek vertrou dat bostaande punte sal help om te verstaan hoe leesremediëring aangepak en hanteer behoort te word.
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“Die beste advies wat ek ooit gekry het was dat kennis mag is en om aan te hou met lees.” – David Bailey –
Dr ST Potgieter Nuusbrief Welkom by vandag se nuusbrief. Vertrou dit gaan nog goed met jou. Hulp en remediëring met leesprobleme In die vorige…