25/10/2022
EREDIENS IN SCOTTSDENE
Ek was so bevoorreg om deur Pastoor Brian Peters en sy vrou Sophia, genooi te word as een van die gas sprekers by hierdie besonderse gemeente by een van Bonnie Brae se Bure, Scottsdene. Aangesien dit Borskanker maand is, het hulle ‘n spesiale diens aan hierdie gevreesde siekte gewy. Foto’s van geliefdes wat hulle stryd verloor het, onder andere díe van William Reid asook van ander wat nog veg, word uitgestal.
Waar baie van ons elke Sondag in ‘n groot kerkgebou sit en aanbid, verkondig hierdie mense Die Woord uit hulle woning wat hulle so ingerig het, om almal te kan akkommodeer wat wil kom luister. Stoele word buite uitgepak en mense kom uit alle rigtings aangestap om te kom aanbid. ‘n Groot mat word op die grond gegooi wat dien as ‘n platform. Met slegs ‘n klawerbord, ‘n tamboeryn en ‘n paar mikrofone, loof en prys hulle die Here se Naam terwyl hulle sing en dans op die ritme van die musiek. Talentvolle mans, vroue en kinders neem deel met alles wat hulle het, om Sy Naam mee groot te maak.
‘n Seuntjie neem die mikrofoon en sing ‘n liedjie vir sy Mamma, wat ‘n jaar gelede die stryd teen kanker verloor het, ‘n jong meisie voer ‘n spesiale danspassie uit vir kanker lyers, Evangelis Bergh bring ‘n kort boodskap, Suster Juliana Koopman van Tygerberg Onkologie lewer ‘n praatjie oor hoe ons gesond moet lewe en ek kon ook my kanker ervaringe met my dogter, met die gemeente deel.
‘n Kort getuienis met ‘n belangrike boodskap het uitgegaan, “Kind van Kraaifontein”: ‘n Jong man van Kraaifontein, wat vasgevang was in ‘n bende, het op ‘n dag besluit om sy hart vir Jesus te gee. Vyf dae later het hy sy lewe in bende geweld verloor. Ons almal kry ‘n b***t om te sterf, maar ons weet nie wanneer nie. Soms laat Hy ‘n siekbed toe en dan het jy nog kans om reg te maak, maar soms kom jou b***t skielik en onverwags. Die boodskap: Ek kan nie vir jou sê hoe jy jou lewe moet lei nie, maar sorg dat jy jou hart vir Jesus gee sodat wanneer dit jou b***t is om te sterf, jy nie verlore sal gaan nie.
Soretha Coetzee
Sel: 0764828045