01/08/2019
Skyn jou lig….
Jitte daar is so baie mense om my wat huidiglik deur donker tye gaan, dat mens soms net oorweldig word deur ‘n magtelose gevoel omdat jy niks kan doen nie.
Daar is ‘n liewe juffrou en ongelooflike vrou wat so braaf aan die begin staan van ‘n oorlog teen die vyand wat kanker genoem word.
Daar is ‘n jarelange vriendin en ‘n mens wat net van goed en liefde aanmekaar geweef is, wat moes hoor sy het die stryd teen hierdie vyand begin verloor.
Daar is ‘n vriendin wat soveel meer as net ‘n vriendin was wat finaal die stryd verloor het, en my hartsvriend wat nou met ‘n stukkende hart in sy hande sit.
Daar is ‘n vrou wat oor my pad gekom het en ‘n vriendin en sielsgenoot geword het, so sonder dat ek agtergekom het, wat vandag rou oor haar boetie wat sy moes groet. Sonder dat sy hom self kon koebaai sê.
Daar is ‘n ma wie se kind nie meer die leef van die lewe kon raaksien nie, en wie nou moet probeer om self aan te hou leef sonder hom.
Daar is my eie kind wat ‘n demon moet veg wat hy nie verdien het nie.
Daar is ‘n skoolvriend wie se mooi en liefdevolle vrou net een oggend op pad skool toe van hom weggevat is.
Daar is ‘n kollega wie se kinders sonder ‘n ma en pa moet grootword en leef.
Daar is ‘n klient wat haar lewensmaat te vroeg moes afstaan, en nou verlore en bang voel, maar my steeds met ‘n glimlag groet.
So baie hartseer, en so baie seer, met so baie gevolge, dat mens se hart skielik te swaar en te groot vir jou lyf begin voel. Want wat maak ‘n mens nou? Hoe help jy en waar troos jy? Ek weet regtig nie.
Ek het nie vandag woorde nie, en ek voel so magteloos.
Mag daar vir julle wat hier is, en julle wat agterbly, iewers ‘n bietjie troos en ‘n bietjie vrede wees. Mag die klein goedjies van die lewe jou weer bly maak, en vir jou ‘n bietjie geluk bring. Al is dit net vir ‘n oomblik.
Mag julle wat rou en afskeid neem, weer die blomme begin sien, en selfs een of twee vir jouself pluk.
Miskien moet ‘n mens in die donker tye nie te ver vooruit probeer sien nie. Dalk net met die liggie wat jy by jou het, al is dit net ‘n klein ou verjaarsdag kersie, probeer om te kyk waar jou volgende tree moet wees. En dan die volgende een en dan die volgende. En so vir jou ‘n groter kers kry, en dalk later sommer ‘n gaslamp.
Want soms is dit net nodig om te kan sien waar jy volgende gaan trap. Soms is dit nodig om juis nie verder te probeer kyk nie. Want as jou liggie net voor jou vir jou gaan wys wat daar is, dan gaan jy in elk geval net donker sien as jy te ver vooruit probeer kyk.
Miskien is dit beter om jou kop so bietjie af te hou, en net hier voor jou te kyk waar daar nou so bietjie lig skyn. Want jou klein liggie skyn dalk net op ‘n blom of ‘n stukkie groen gras, en dan gaan jy dit miskyk as jy net die hele tyd in die donker staar.
Dit is okay om nie altyd alles te kan sien nie. Dit is ook okay om nie altyd alles te WIL sien nie.
Daar kom tye in ons lewe waar ons net tree vir tree deur die donker moet stap met die bietjie lig wat ons het.
En as jy sien daar is iemand wat geen lig het nie, wil jy nie asseblief net so bietjie van jou lig met hom deel nie? Wil jy nie net vir hom ‘n kersie aangee waarmee hy ten minste net vandag ‘n tree of twee kan stap nie? En as hy nie die liggie wil vat of kan vat nie, moenie net wegloop nie. Loop maar so bietjie voor hom sodat hy van jou lig kan sien. Dalk gee dit hom tog die moed om ‘n tree te gee as hy weer sien hoe lig lyk.
Soms raak mense so gewoond aan die donker, dat hulle vergeet hoe die lig lyk.
Moenie wag totdat dit te laat is nie.
Hoekom is ons mensdom so lief daarvoor om so baie tyd te spandeer, en te skryf, en te praat oor almal wie se lig finaal gedoof is, maar ons wil nie vir die wat nog hier by ons is so bietjie lig aangee nie? Hoekom is ons so suinig vir ons liggies en ons kersies en ons batterye vir die wat dit nog kan gebruik? Jy weet, jou liggie word nie flouer as jy voor iemand loop met hom nie. Sy donker word net so bietjie minder.
As jy lig het, skakel dit aan. As jy ekstra lig het, deel dit uit. En as jy in die donker is, vra vir bietjie lig, en probeer net een tree op ‘n slag gee. Al is die liggie flou en min. Ons het nodig dat jy saam met ons moet stap.
Geskryf deur Corné Welman, Blog van my siel (kopiereg, share asb nie copy)