12/02/2026
Iewers in 'n beeskraal op 'n opvou stoel met beesmis onder ons skoene..."
Die afgelope paar dae op die pad het langer gevoel as wat die kilometers aandui...
Heelwat gestop en afgedraai...weg van groot besige paaie om stil te word, hekke oop en toe gemaak en elke bees en skaap wat ek sien het 'n merk gelaat...
My net weereens daaraan herinner dat my werk as berader nooit net oor trauma in die kliniese sin gaan nie – dit gaan oor mense, waardigheid, verlies en uithouvermoë.
Om meestal met boere te werk, beteken om in ruimtes te stap waar veerkragtigheid soos ou leer verslyt is:
..sterk, verweerd, maar met krake op plekke wat niemand graag wys nie...
Oor die afgelope paar weke was die laste besonder swaar - die uitbreking van bek-en-klouseer het diep gesny, nie net in vee nie, maar ook in die identiteit van die mense wat vir hulle sorg en omgee.
Vir baie boere is diere nie net nog 'n implement of deel van plaas voorraad nie - elkeen is jare van noukeurige teling, vroeë oggende, laat nagte en stil gesprekke in die veld.
Om te sien hoe gesonde diere vernietig, bewegings beperk, lewensonderhoud gevries en toekoms in onsekerheid gewerp word, is verwoestend.
Die hartseer is werklik, selfs al word dit nie altyd as sodanig erken nie.
Terwyl ek die afgelope paar dae oppad was, het ek meer geluister as gepraat.
Ek het geluister na woede wat nêrens heen kon gaan nie, na vrees vermom as frustrasie, en na uitputting wat deur voel of dit deur murg en bene sny...
Ek het saam met mense gesit wat vergete, geblameer of magteloos voel – mense van wie verwag word om “net aan te gaan”, want dis wat boere doen.
Maar trauma kom nie altyd met geweld of bloedvergieting nie - soms kom dit stilweg, deur verlies aan beheer, langdurige onsekerheid en die stadige erosie van hoop.
Hierdie soort trauma bly voortduur - dit isoleer en laat mens alleen en verlate voel.
En dit gaan dikwels ongesiens verby.
Wat my die meeste getref het, was nie net die pyn nie, maar die isolasie en alleenheid.
Die gevoel en woorde wat gedeel word is dat boere moet sterk bly vir hul families, hul werkers en hul gemeenskappe - daar is min ruimte om uitmekaar te val.
En tog, agter geslote deure, in 'n beeskraal op 'n opvou stoel met beesmis onder ons skoene; kom die vrae:
Hoe oorleef ons dit?
Wat kom volgende? Hoeveel meer kan ons hanteer?
As 'n berader kom ek nie met antwoorde nie - ek kom met teenwoordigheid, daag net op - ek probeer net te "wees".
Soms beteken dit om in stilte te sit. Soms beteken dit om iemand te help om woorde te vind vir wat hulle alleen gedra het.
En soms beteken dit bloot om ons daaraan te herinner dat elkeen se reaksie – hartseer, woede, gevoelloosheid – normale reaksies op 'n abnormale situasie is.
Die afgelope paar dae het my daaraan herinner en weer bevestig, hoekom ek doen wat ek doen.
Om te getuig maak saak. Luister maak saak.
Opdaag maak saak.
Die pad vorentoe – vir boere, vir landelike gemeenskappe, vir almal wat deur hierdie krisis geraak word – bly onseker.
Maar niemand behoort dit alleen te hoef te loop nie.
As daar een ding is wat ek weer op hierdie reis geleer het, is dit die volgende:
- Hoop is nie die afwesigheid van pyn nie.
- Hoop is die moed om aan te hou, selfs wanneer die grond onder jou onvas voel.
En soms begin Hoop wanneer ons gehoor word.
Gesels seblief met my, ek praat luister vlot.
Groete.🌿