13/05/2026
John — die geheue van ’n kontrei
Die heengaan van John van der Westhuizen, in lewe redakteur van Die Namakwalander, stem my baie bedroef.
Vir baie jare was sy naam en gesig onafskeidbaar deel van Die Namakwalander. Elke week het hy die stories van ons mense vertel — die groot nuus, maar ook die klein gebeurtenisse wat vir gemeenskappe saak maak. Deur sy werk het hy deel geword van die ritme en geheue van ons kontrei.
'n Kollega van my en oud-taalonderwyser van John by die toe nog Concordia Senior Sekondêre Skool, mnr. J.H. Schmidt, het by navraag vertel dat John op skool 'n stil seun was.
Mnr. Schmidt sê hy was destyds, met die eerste uitgawes van Die Namakwalander, nie verbaas dat John hom in die koerantwese probeer vestig het nie, want hy onthou John het op skool goeie opstelle geskryf en altyd goeie punte in die destydse Afrikaans Eerste Taal Hoër Graad behaal. Sy liefde vir skryf was dus reeds op skool duidelik. Hy was dus baie trots op John om destyds met 'n gemeenskapskoerant te begin, sê mnr. Schmidt. Ook onthou hy dat John daai tyd altyd almal te vertelle gehad het dat "hierdie was my Afrikaanse meester," wanneer hulle mekaar raakgeloop en 'n gesprekkie aangeknoop het.
Daardie liefde vir stories en gemeenskapsmense het ek ook persoonlik in my interaksie met John ervaar. Hy was altyd meer as bereid om ’n spasie in die koerant af te staan wanneer ek iets aan hom voorgelê het. Daardie gewilligheid om plaaslike stories ’n stem te gee, is iets wat ek altyd sal onthou.
Ek onthou ook hoe ek annerdag ’n berig gesoek het wat reeds in 2007 verskyn het. Sonder huiwering het hy in die argiewe gaan soek en die berig vir my opgespoor. Dit het my opnuut laat besef hoeveel geskiedenis in daardie koerant opgesluit lê — en hoeveel daarvan deur sy hande bewaar is.
Hoe sal ons ooit vergeet hoe hy elke Vrydag klokslag op sosiale media geskryf het: “Friday, I love you.” Ek d**k dikwels dat hy op daardie oomblik agteroor gesit het, tevrede, want Die Namakwalander was pas by die verskeie afsetpunte afgelewer.
In sy redakteursbrief het hy byna altyd iets oor die weer geskryf. ’n Mens hoef maar net ’n ou uitgawe van die koerant op te tel en sy brief te lees, dan weet jy presies hoe die weer daardie week in die kontrei was. Ek kan my net ind**k hoe hy in vandeesweek se uitgawe sou geskryf het oor die vloedskade en die groot reëns wat ons tans ervaar.
Hy het ook altyd die mylpale van die koerant onthou en gevier. Dikwels het hy geskryf oor hoe mense die werk van Die Namakwalander geringskat het en hoe moeilik dit soms was om ’n plaaslike koerant aan die gang te hou. Tog het hy, ten spyte van druk, kritiek en moeilike omstandighede, met onvermoeide ywer en toewyding week ná week gesorg dat die koerant steeds op die winkelrakke verskyn. Dit getuig van iemand wat werklik geglo het in die waarde van plaaslike nuus en die stories van sy mense.
Toe ek onlangs verneem het dat die gedrukte koerant nie meer op die winkelrakke beskikbaar is nie, het ek by hom navraag gedoen. Hy het my meegedeel dat sy gesondheid nie meer na wense was nie en dat Die Namakwalander voortaan elektronies beskikbaar sou wees. En hy het steeds daarna getrou die e-uitgawe vir my aangestuur. Selfs in moeilike omstandighede het sy toewyding aan die koerant en aan sy lesers nooit verdwyn nie.
Vir baie van ons is Die Namakwalander meer as net ’n koerant. Dit is iets eie aan ons kontrei — ’n plek waar die stories van gewone mense leef. Tussen sy blaaie word die lief en leed van ons dorpe vasgevang. Dit dra die hartklop van Namakwaland.
Met John se afsterwe verloor ons nie net ’n joernalis nie, maar ook iemand wat gehelp het om die geskiedenis van ons kontrei te bewaar. Sy nalatenskap sal nog lank voortleef, omdat Die Namakwalander vir toekomstige geslagte ’n bron van ons kontrei se geskiedenis sal bly.
Op die einde van die dag het hy groot vermag.
Ons innige meegevoel gaan aan sy familie, geliefdes en almal by Die Namakwalander. Mag julle troos vind in die wete dat sy lewe en werk diep spore in hierdie kontrei getrap het.
Mag ons hom onthou as iemand wat die waarde van plaaslike stories verstaan het en wat gehelp het om die stem van ons mense lewendig te hou. Sy nalatenskap leef voort in elke vergeelde koerantknipsel, elke foto, elke berig en elke herinnering wat hy help bewaar het.
Emanual Cloete
Concordia